top of page
Search
Writer's pictureClaude Swanepoel

Misverstaande Outoriteit Lei na Misplaasde Geloof


In die laaste paar weke is ons bekend gestel aan ‘’n hele nuwe gevaar en daar word vir ons gesê dat die gevaar stadig al hoe nader trek om ons vredevolle lewens deurmekaar te kom krap. Interessant dat baie van my gesprekke tydens hierdie tyd dan rondom GELOOF draai. As ek nou terug kyk op boodskappe wat ek uitgestuur het en wat na my toe gestuur is, gesprekke met geliefdes, voorbereidings vir preke, oral sien ek net hierdie tema: GELOOF. Die onderwerp vandag is niks anders as geloof nie en die rede vir dit is omdat ek glo dat ons geloof getoets word as kinders van God.

Hierdie tema is van uiterste belang. Wat ons glo gaan bepaal hoe ons keuses maak en hoe ons keuse maak gaan ons toekoms beïnvloed. Die grootste fout wat jy vandag kan maak is om jou besluite te neem wat op menslike of wêreldse wysheid gebaseer is. In alles moet ons streef om die Here te behaag en dit is onmoontlik om dit te doen sonder geloof (Heb 11:6).


Jesus het baie oor geloof te sê gehad. Hy het gereeld daaroor gepraat tydens sy preke, maar ook gekies om daaroor te praat in sy laaste, privaat gesprek met Petrus, voor hy gearresteer is in die Tuin van Getsémané. As hierdie my laaste geprek met jou was, sou ek ook kies om oor geloof te praat.


Kom ons lees:

(Mar 4:35-41)

En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En ‘n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!


Ons sal Windstorms moet Aandurf

Windstorms is iets wat ons gereeld in ons lewens beleef. Hulle kom en gaan so vinnig. Ek het al heelwat beleef en ek is seker jy het ook ’n paar storm-stories om te vertel. Ons is nie vrygespreek van storms nie, maak nie saak wie jy is, of hoe gehoorsaam jy aan die Bybel is nie, windstorms sal, een of ander tyd jou situasie deurmekaar waai. Die lokale kerk waar ek tans bedien, het al baie windstorms in die verlede ervaar en sal nog baie. Kom ons skep moed: hulle hou nie lank nie.

Elke nou en dan kom daar ’n windstorm wat jou lewe in gevaar stel, net soos die dissipels daardie nag in hulle skuitjie. Jy sien, om 'n storm op die see tee te kom is heel anders as om storms op die land te beleef. Daardie aand, op die boot, is die dissipels se geloof getoets. Wanneer ’n storm kom, jou lewe dreig, jou fondasie skud en jou trots ruk sodat niks van jou oorbly nie, dan is dit wanneer jou geloof op vertoon is; dit is die eerste ding wat getoet word.


Ons Aksies tydens ’n Windstorm openbaar ons Ware Geloof.

Verbeel jou gou: Aan die een kant van die boot slaap Jesus rustig op 'n gemaklike sagte kussing en aan die ander kant is mense, besig om mal te word van vrees terwyl hulle probeer om die storm water uit die boot uit te skep.

Neem in ag, dat die dissipels al teen hierdie tyd, getuies was van baie wonderwerke wat Jesus gedoen het. Hulle het eerstehandse ondervinding van wat Jesus kan doen, tog spring hulle rond en weet nie wat om te doen nie. (Onthou die is een ding om God te sien beweeg in die lewe van iemand anders en dan te proklameer dat Hy goed is, maar dit is 'n hele ander storie wanneer jy self in die moeilikheid is, om dan dieselfde geloof toe te pas.)

Dis wonderlik om te sien wat Jesus met ’n storm maak. Sy aksies spreek volumes. Ai, hoe wens ek dat ek met soveel selfvertroue en geloof die storms in my lewe kan hanteer. Wens jy nie ook jy kon deur jou storms slaap nie?

Kom ek deel met jou hoekom die dissipels hierdie aand die geloof-toets gedop het.


Hulle het nie verstaan wie HY regtig was nie (Sy Outoriteit is Misverstaan)

In die Skrif sien jy dat hulle na Jesus verwys as “Meester”. Die Griekse woord vir Meester is Didaskalos, wat “Onderwyser” beteken, of dan nou “een wat onderrig gee”. Enige ou wat in die Joodse gemeenskap as Rabbi, of Onderwyser van Doktrines geken is, is Didaskalos genoem. In die dissipels se tyd van nood kon hulle Jesus met enige respekvolle naam geroep het, maar hulle het gekies om Hom “Meester” te noem.

Hulle kon Hom “Heer”, of “Messias” of “Seun van God” genoem het, maar hulle het nie.  Omdat hulle nie Sy outoriteit verstaan het nie, het hulle hul geloof nie in Hom (die Redder van die wêreld) geplaas nie. Hierdie aksie het die situasie vererger. Ewe skielik is die storm groter as Jesus, in hulle oë. Die vrees vir die potensiele uitkoms van die situasie het grootter geword omdat hulle vergeet het wie Hy werklik is. Hulle het Sy outoriteit misverstaan.

Nadat Jesus die storm beveel het om te bedaar was die dissipels verbaas. Hulle het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!”

Die openbaring van wie Jesus Christus werklik is, sal vir jou vrede bring in die middel van jou storms.


Hulle het verwag dat Jesus dinge sou doen, soos hulle dit doen.

Toe die dissipels vir Jesus wakker maak het, het hulle eerstens Jesus se outoriteit misverstaan en tweedens het hulle bevraagteken hoekom hy niks gedoen het om te help nie. Tot nou toe, het Jesus nog net geslaap. Die kondisies (storms van die lewe) het hom glad nie gepla nie. Die feit dat die storm Jesus nie gepla het nie, het die dissipels baie gepla.  Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Soms bepaal ons die vlak van mense se geloof deur hoe besig hulle is en dit is so onakkuraat. Die teenoorgestelde is ook onwaar: ’n teken van groot geloof is ook nie om niks te doen nie. Geloof in Christus is om situasies te hanteer soos wat Jesus dit sou hanteer. Wag op Hom voor ons reageer; Vertrou op Hom ten spyte van die gevolge. Geloof in God produseer goddelike karakter en hoop. (Romeine 5:1-5)

In die dissipels se oë daardie aand, het Jesus niks gedoen nie, daarom het hulle die gevolgtrekking gemaak dat Hy nie vir hulle óf vir Sy eie welstand omgee nie.

Baie mense het dieselfde gesindheid vandag. Hulle sê: “As Jesus regtig vir my omgee sal Hy nie toe gelaat dat dit of dat gebeur nie” of “Hoekom laat Jesus toe dat die wêreld in so ’n toestand is, hoekom doen Hy nie iets nie?”

As jy dink dat Jesus nie omgee nie, dan weet jy nie regtig wie Jesus is nie.


Wanneer ons van God verwag om ’n situasie te hanteer soos ons dit sou hanteer, dan verstaan ons nie Sy outoriteit nie en ons plaas ons geloof in iets anders as Jesus.


  • Palm Sondag – Die mense het Jesus die een dag aanbid en die volgende dag gekruisig.

  • Petrus – Het een oomblik vir Jesus baklei en die volgende oomblik Hom ontken.

  • Job se Vrou – Het haar geloof in God verloor omdat sy nie regtig vir God geken het nie. Sy het nie God se outoriteit verstaan nie.


Daar is so baie ander voorbeelde in die Bybel van mense wat hulle rûe op God gedraai het omdat hulle nie hul sin gekry het nie. In die storie van Maruks 4 vat Jesus hierdie misverstand vas. Hy noem dit: “Geen Geloof”. As ons die mag en gesag van God afbreek deur te wil hê dat Hy die probleem moet hanteer soos ons goeddink, dan het ons geloof, dit is net misplaasde geloof. Die geloof wat veronderstel was om op God geplaas te word, is nou op iets anders geplaas.

Baie sal sekerlik sê dat die dissipels geen geloof gehad het nie, omdat Jesus gesê het hulle het geen geloof nie (v40). Ek wil stel dat hulle wel geloof gehad het, hul geloof was in hul ondergang. Hulle het eerlikwaar geglo dat hulle sou sterf daardie aand. Was Jesus dan verkeerd? Nee, gladnie. My punt is dit: As jy jou geloof in enige iets anders plaas as Jesus, is dit gelykstaande aan Geen Geloof (in Hom). Om jou geloof in aardse sekuriteit te plaas, is gelykstaande aan geen geloof. As ons ons oë op mensgemaakte, vleeslike dinge plaas is dit gelyk aan – geen geloof in God. Om God magtig te sien beweer in mense se lewens om jou maar steeds in jouself en die weë van die wêreld te vertrou, is gelykstaande aan geen geloof in God. Om God nie te vertrou in die dinge wat toegelaat word in Sy oneindige wysheid nie, selfs die dinge wat ons seermaak, is gelyk aan geen vertroue in God nie.


"God allows in His wisdom what He could easily prevent by His power."

- Graham Cook


Kom ons leer om op Hom te vertrou, selfs wanneer dit seermaak, selfs al voel dit of ons gaan verloor. Hy het ons beste belange van harte en daardie beste belange sal nie hier op aarde uitgespeel word nie, maar in 'n ewige koninkryk. Ons sal erf wat Hy vir ons belowe het, as ons glo.


Die voorreg om terug te kan kyk.

Die verskil tussen ons en die dissipels op daardie boot, is dat ons geen rede het om te twyfel in wie Christus werklik is nie. Ons het ’n groot voordeel, ons kan terugkyk en sien wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis. Hulle moes die kruisiging nog deurgaan en vir ons is dit reeds gedoen.

Vandag kan ons sonder twyfel proklameer dat Jesus soveel meer is as die beste Leermeester as wat nog ooit geleef het.


Hy is die Skepper van die hemel en aarde(Joh. 1:1-4; Kol. 1:15-16)

Hy is die Sterke God(Jes. 9:6)

Hy is die blink Môrester(Op. 22:16)

Hy is die behouder van all mense wat in Hom glo(1 Tim. 4:10)

He is die Geneesheer van al ons krankhede(Ps. 103:3)

He is die Een wat die dood oorwin het(2 Tim. 1:10)

Hy het die Naam bo elke naam  (Fil 2:9)

Hy is verhewe(Jes. 57:15-17; Joh. 12:32)

Hy sit aan die regterhand van die Vader(Heb.1:3)

Hy is die Waarheid(Joh. 14:6)

Hy is Almagtig(Kol. 1:17)

Hy is die Eersgeborene van die hele skepping(Ps. 89:27; Kol. 1:15)

Hy is die Een wat ons vertroos in ons tye van verdrukking(2 Kor. 1:4)

Hy is die Voorsiener van al ons behoeftes.(Fil. 4:19; 2Kor 9:8)

Hy roep jou op jou naam.(Ef. 4:4; 1 Kor 1:9; Jes. 43:1)

Hy is die Een wat jou red(2 Thess. 2:9-10)

Moenie in die storm seisoen wonder wie Jesus is nie. Nee...

Hy is die Een Ware Woord(Joh. 14:6; Joh. 1:1-5)

Hy is die Een wie ons versadig.(Ps. 91:16)

Hy is die Een wat ons ophou.(Luk. 1:52; Ps 40:2)

Hy is die Een saam met wie jy in die hemele sit.(Eph 2:6)

Hy is God(Fil. 2:5-6; Kol 2:9-10)

Hy is almagtig(1 Kron. 29:11)

Hy is ’n verterende vuur.(Heb. 12:29)

Hy is die leeu uit die stam van Juda.(Op. 5:5)

Hy is die lam wat vir ons sonde geslag is. (Op.5:9)

Hy is die Een wat vergewe. (1 Joh. 1:9)

Hy is die Een wat sy lewe neergelê het.(1 Joh. 3:16)

Hy is die Koning van die konings.(Op. 17:14; Op. 19:16)

Hy is die bevelvoerder van die hemelse leërskare.(1 Konings 22:19-22)

Hy is verewig en Hy is oorwinnaar.(Op. 1:17; Joh. 16:33)

Hy is Heilig(Hand. 3:14; Heb. 7:26)

Hy is die ENIGSTE Een waardig om geprys te word.(Op. 4:1)

Hy is die enigste Een wie ons moet vrees.(Luk. 5:26; Ef. 5:21)

Sy Naam is Jesus, Koning van my hart.


As ons kan terugkyk in geloof na wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis en ons ontvang die openbaring van wie Hy regtig is, dan kan ons uitsien na ’n lewe veilig in Sy hande. Ons het geen verskoning om ons geloof in enige iemand anders te plaas nie. Ons het ook geen rede om te twyfel in Sy Almag en Wysheid nie. Al wat van ons verwag word, is om te vertrou en glo terwyl ons Sy stem gehoorsaam.


Neem ’n oomblik om die Here te prys vir wie Hy is. Rig jou oë op Hom. Jy sal sien dat jou probleme kleiner raak wanneer jy jouself herinner aan hoe wonderlik Hy is.

29 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page